Potjie Wenke

1. Gebruik altyd bestandele van goeie gehalte. Vergeet van bevrore groente in n pot. Gebruik net vars, rou groente.
2. Moet nooit jou pot met olie of margarien smeer nadat jy dit gebruik het nie. Was dit net goed met seep en water, droog dit goed af en sit opgefrommelde koerantpapier binne in. Dit sal verhoed dat dit roes.
3. Kontrolering van die hitte is die geheim vir n geslaagde pot. n Direkte vlam en baie warm kole is nodig om die pot te verhit en wanneer jy die vleis verbruin. Wanneer al die ander bestandele in die pot is en die deksel op is, is matige kole die wagwoord. As jy twee meter van jou pot staan en jy hoor hom "brom", dan is jou kole te warm. n Ysterpot werk soos n drukpot, as die pot warm is, het jy min hitte nodig om kookput te hou.
4. Potjiekos moet NOOIT geroer word tydens die prut proses nie. Jy roerbraai wel jou vleis in die begin om dit bruin te kry. Daarna word die kruie en speserye bygevoeg. Dan pak jy jou groente op lae bo-op die vleis. Groete wat lank neem om gaar te word kom direk bo-op die vleis gevolg deur die wat gou kook. As alles in die pot is, plaas die deksel op en dan roer jy nie weer die pot nie.
5. Monitor die vog sodat die pot nie aanbrand nie. Onthou om nie te veel vog by te sit nie. Groente bestaan uit 80% water en dit word vrygestel gedurende die prutproses.
6. By vleissnitte wat lank neem om gaar te word soos beesstert en tarentaal, word die groente eers na 1 uur bygevoeg. Groente soos murgpampeontjies en sampioene wat gou gaar word, word eers die laaste 20 minute bygevoeg.
7. Was jou groente deeglik af. Sand tussen die tande is nie baie lekker nie.
8. Die aanbevole tydsduur vir verskillende potjies is soos volg:
- Taai snitte soos Beesstert en volstruisnek: 3uur 30 minute tot 4 uur
- Wild en skaapvleis: 2 uur 30 minute
- Lam en vark: 2 uur tot 2 uur 30 minute
- Pluimvee: 1 uur tot 1 uur 30 minute
- Seekos: 40 minute tot 1 uur
9. Kook gerus met brandewyn en wyn - dit is geensins nadelig vir kinders nie. Alkohol kook by n laer punt as water, wat beteken dat die alkohol verdamp gedurende die prutproses. Al wat oor bly is die geur en smaak. Witwyn word gebruik vir witvleis en seekos en rooiwyn vir rooivleis. Port en rooiwyn komplimenteer wildspotjies. n Bietjie brandewyn verrig wondere by enige pot.
10. Moenie bang wees om te waag nie. Improviseer en beproef nuwe geregte. Aanvoeling en as jy kan aanpas by omstandighede, is n vereiste vir sukses as potmaker.
Uittreksel uit "Maak n Las"
Verwante Artikels