Dadel en Gemmerpoeding
STROOP
250 ml (200 g) suiker
250 ml water
60 ml muskadelwyn
BESLAG
30 ml botter
30 ml appelkooskonfyt
125 ml melk
10 ml fyn gemmer
1 eier
250 ml dadels, fyngekap
120 g ingemaakte gemmer, gekap
20 ml koeksoda
250 ml (120 g) koekmeel
Stroop
Gooi al die stroopbestanddele in 'n kastrol en roer dit oor lae hitte totdat die suiker gesmelt het. Sodra die suiker opgelos het, kan jy die hitte verhoog en die stroop vir 5 minute laat prut.
Beslag
Verhit die botter, appelkooskonfyt, melk en gemmer in 'n aparte kastrol en roer dit totdat die botter en konfyt gesmelt het. Klits die eier en roer dit by die gekapte dadels en ingemaakte gemmer. Gooi die koeksoda by.
Gooi die warm botter-en-appelkooskonfytmengsel by en roer deur. Sif die meel oor die beslag en vou dit met 'n groot lepel in. Skep die beslag in 'n gesmeerde oondbak (22 x 22 cm) en giet 'n derde van die stroop oor. Bak dit vir 20 minute. Gooi nog 'n derde van die stroop oor en bak dit vir nog 15-20 minute of tot gaar. Gooi die laaste stroop oor die poeding sodra dit uit die oond kom en sit dit voor met room.
Verwante Artikels