Warm sjokolade vir die koue wintersaande
soos uitgesaai op 13 Maart 2009 in Koffietyd/ Roer en Proe op www.uitsaaines.co.za
Onthou daardie wonderlike fliek Chocolat met Juliette Binoche en Johnny Depp? Die boek is nog beter. En wat is beter as om met 'n lekker boek op te krul wanneer die wind om die hoeke huil? 'n Boek en 'n lekker groot beker warm sjokolade!
(met skop -- en ‘n bietjie van ‘n byt)
Genoeg vir twee
Jy benodig
400 ml volroom melk (dis nie nou die tyd vir kalorieë tel nie)
½ vanillaboontjie, wat in die lengte deurgesny is
½ kaneelstokkie
1 brandrissie in die helfte deurgesny, pitte verwyder
100g donkersjokolade (dit moet 70% kakao wees – Lindt of Cote D’Or)*
Sagte bruinsuiker (die donker een met die baie molasse), na smaak
Geklopte room
Sjokoladekrulle (hier kan jy sommer ‘n bietjie sjokolade met ‘n aartappelskiller in krulle afskil)
Konjak of Amaretto
So maak mens
Gooi die melk in ‘n kastrol, voeg die vanillaboontjie, kaneelstokkie en brandrissie by en bring stadig tot kookpunt. Kook nog vir ‘n minuut.
Rasper die sjokolade en klop dit in die melkmengsel totdat dit heeltemal gesmelt is. As dit regtig moet, kan jy die suiker byvoeg, maar probeer dit eers daarsonder.
Haal die kastrol met die sjokolademelkmengsel van die stoof af, haal die speserye uit en sit die kastrol weer terug op die stoof en bring dit stadig weer tot kookpunt. (STADIG is die towerwoord hier – daar is niks wat so sleg smaak soos melk wat aangebrand het nie.)
Skink die sjokolademengsel in bekers, skep geklopte room bo-op, sprinkel sjokoladekrulle en voeg ‘n skeutjie Amaretto of konjak langsaam langs die kant in en ’n paar druppels op die sjokolade-krulle.
(KWV 5 jaar oue brandewyn sal ook doen – jy kan dit nou oor die toonbank in enige drankwinkel koop.)
Verwante Artikels