Tamatieroomsop

soos uitgesaai op 13 Maart 2009 in Koffietyd/ Roer en Proe op www.uitsaaines.co.za
Eintlik het die resep my oog gevang omdat ek nie kon glo dat 'n mens met so min bestanddele iets smaakliks kan optower nie.
Dis 'n resep wat aandag verg, want dis naelbyt dat die sop nie skif nie.
Jy het nodig
2 koppies gekookte tamaties
½ eetlepel fyngekapte ui
1 teelepel sout
¼ teelepel peper
'n Knippie rooipeper
2 teelepels suiker
2 eetlepels botter
2 eetlepels meelblom
1.14 liter warm melk (tot net voor kookpunt gebring)
So maak mens
Kook die tamaties, ui, sout, peper, rooipeper en suiker 15 minute lank saam.
Plaas in sif om oortollige sap weg te laat loop
Smelt die botter, roer die meelblom in en voeg die warm melk geleidelik by terwyl jy aanhoudend roer.
Voeg die tamatiemengsel geleidelik by terwyl jy nog steeds aanhoudend roer (moenie eens daaraan dink om op te hou nie). Bedien onmiddellik.
Die resep sê dis genoeg vir ses mense, maar hoewel dit baie ryk is, kan 'n mens net nie genoeg kry nie -- ek sou nie meer as vier probeer voer nie. En as jy dit as voorgereg maak, moet jy baie mooi dink -- want dis nogal vullend en so geurig dat die hoofmaal maklik tweede kan kom


Verwante Artikels